Outeniqua klop Paarl Gimnasium in ‘n harde stryd

Outeniqua klop Paarl Gimnasium in ‘n harde stryd

posted in: Western Cape | 0

Die netbalseisoen het vir meeste skole reeds afgesluit, maar die inter-skole tussen Hoërskool Outeniqua en Paarl Gimnasium is jaarliks ‘n reuse hoogtepunt op albei skole se sportkalender.  Die aksie op die netbalbaan was weereens uit die boonste rakke en getuig van ‘n gesonde netbalkultuur in die Wes Kaap.

Na ‘n vol oggendprogram op die netbalbaan, waar Paarl Gimnasium se spanne in meeste wedstryde die oorhand gehad het, het die o.18A meisies op die baan aangetree.

Dit was van die begin van die wedstryd duidelik dat nie een van die twee spanne enige doele maklik gaan weggee nie. Albei spanne het hard gewerk en hul harte uitgespeel. Die wedstryd was ‘n vertoonvenster van netbal vir albei skole en die spelers het die geleentheid gebruik om die jonger meisies te wys hoe dit gedoen word.

Van die eerste afgooi af was die spanning op en langs die baan bykans tasbaar en na die eerste kwart was die telling 8 – 6 in Outeniqua se guns. In die tweede kwart is daar nog harde klippe gekou en die telling het wipplank gery tot die halftyd fuitjie geblaas het met die telling op 15-15.

Albei spanne se HV’s het uitsonderlik gespeel en die een na die ander prag onderskepping geneem. Aan die einde van die derde kwart het Outeniqua ‘n goeie voorsprong opgebou en was die telling 28 – 21 in Outeniqua se guns.

Paarl Gim het egter met ‘n harde terugvegpoging gekom en hul harte uitgespeel in die laaste kwart. Outeniqua kon net-net vasbyt en met goeie netbal die voorsprong behou. Outeniqua wen die wedstryd 33 – 31.

“Baie geluk aan albei spanne wat pragtige netbal gespeel het en wonderlike sportmangees getoon het.  Ons is baie trots op al die meisies,” het Martell Stronach van Outeniqua na die wedstryd gesê.

Hiermee al die netbaluitslae van die dag: