Menlopark is SA Skole o.19 kampioene

Menlopark is SA Skole o.19 kampioene

posted in: Gauteng, Provinces | 0

Die Hoërskool Menlopark se eerste netbalspan het die afgelope naweek bewys dat hulle die beste o.19 netbalspan in die land is deur die Nasionale Hoërskole Kampioenskappe onoorwonne af te sluit.

Dit was ‘n wipplankseisoen vir die meisies van Pretoria, wat die toernooi Vrydag as een van die gunstelinge afgeskop het.  Die volgehoue stryd tussen Menlopark en Affies-meisies was sekerlik die hoogtepunt van die 2017 seisoen waarin die twee spanne mekaar om die beurt naelskraap gewen het.

Na ‘n teleurstellende Gauteng Kampioenskappe vir Affies-meisies, waar hulle met die derdeplek gelukkig moes wees, sou hulle vol selfvertroue gewees het na ‘n suksesvolle Coke-toernooi verlede naweek in Potchefstroom. Hulle het in die poelrondtes egter wankelrig gelyk met ‘n gelykop telling van 22-22 teen Stellenberg.

Alle oë op die semi-finaal Menlopark en Affies-meisies.

Na afloop van die poelrondtes en daaropvolgende uitspeelwedstryde het Menlopark en Affies-meisies mekaar, net soos in die Gauteng Kampioenskappe, in die semi-finaal teëgekom.  Daar was nie plek vir ‘n muis om die baan nie en met die telling gelyk op 23-23 na vier kwarte, moes die wedstryd in ekstra tyd bepaal word.  Menlopark het die bal eenkeer te veel omgedraai en teruggestuur na hul akkurate doele toe en die wedtryd 28-26 beklink.  Hoërskool Eldoraigne en Hoër Meisieskool Bloemhof  het sake in die ander semi-finaal uitgespook waar Eldoraigne met ‘n telling van 28-18 gewen het.

In ‘n herhaling van die finaal van die Gauteng Kampioenskappe,  het Menlopark en Eldoraigne weereens op baan 3 by die Hoërskool Dr. E.G. Jansen ontmoet.  Menlopark het die eerste punte in die finaal aangeteken en dit as fondasie gebruik om ‘n voorsprong  van 4 punte in die eerste kwart op te bou.  In die tweede kwart het Eldoraigne die veggees wat hulle die hele seisoen getoon het, ten toon gestel en hul agterstand gekrimp na slegs een doel toe en die telling was 13-12 in Menlopark se guns teen halftyd.

Eldoraigne se verbete aanslag was van korte duur en Menlopark het in die derde kwart weer beheer oor die wedstryd geneem.  Met die telling op 21-16 het die vierde kwart aangebreek en Menlopark het hul aanvallende spel voortgesit.  Die voorsprong het selfs verder gegroei en Menlopark het die wedstryd 29-20 gewen.

Menlopark se afrigter, Manny Ferreira glo dit was ‘n kombinasie van faktore wat sy span die oorhand gegee het hierdie naweek.

“Ons het in die week voor die Coke-toernooi hard gewerk aan fiksheid, en hoewel dit moontlik bygedra het daartoe dat die meisies effens moeg was in Potchefstroom, glo ek dit het ons die afgelope naweek gehelp om deur die taai wedstryde te druk.” sê Ferreira.

“Ons het die spanne in ons poel, asook spanne wat ons moontlik in die uitspeelwedstryde kon trek deur die week ontleed en gekyk waar elkeen se sterk- en swakpunte is, asook hoe ons daardie faktore moet benader. Ons het dus ‘n duidelike plan vir elke wedstryd en elke opponent gehad.  Ons het ook ons strategie verander deur nie net doelwitte per kwart te stel nie, maar ook doelwitte per afgooi. Dit het die span gehelp om te onthou dat elke bal belangrik is, en dat een afgooi en een geleentheid om punte aan te teken die verskil tussen wen en verloor kan beteken,” voeg hy by.

“Verder het ons ook ‘n paar baie goeie sessies saam sportsielkundige, Henning Gericke gehad en hy het nie net die span gehelp om sielkundig voorbereid te wees vir die toernooi nie, maar ek het ook geleer dat ek ‘n positiewe impak kan hê op die meisies deur kalm te bly wanneer hulle onder druk is.  Ek kon inligting en advies op ‘n kalm en positiewe manier aan hulle oordra tussen kwarte, en dit het hulle gehelp om gefokus te bly,” sluit hy af.

Menlo se hulpdoel, Lucy Strydom is ook as die spelers se Speler van die Toernooi aangewys. Lucy is ‘n graad 11 leerder en is onlangs in die S.A o.17 span ingesluit wat in Mei 2018 aan ‘n internasionale toernooi by die Universiteit van Pretoria gaan deelneem.  Sy het die afgelope naweek boonop met ‘n gebreekte gewrig aangepak en was een van die sterre in die Menlo-span.

Vir al die uitslae van die finale dag, besoek: http://schoolofnetball2.co.za/?p=857