Wie gaan koning kraai by Nasionale Hoërskole Kampioenskappe?

Wie gaan koning kraai by Nasionale Hoërskole Kampioenskappe?

‘n Taai en uiters kompeterende netbalseisoen kom hierdie naweek vir honderde netbalspeelsters tot ‘n einde wanneer die land se top skolespanne sake in Boksburg uitspook om die nasionale titel.

Alle oë sal op die 0.19 A-spanne wees waar die kompetisie tussen die Jakarandstad se spanne hierdie seisoen selfs meer intens as gewoonlik was.

Hoërskool Menlopark was hierdie jaar sterk uit die blokke by die Wildeklwer-toernooi, met oorwinnings teen Waterkloof, Affies-meisies, Stellenberg, Ben Vorster en Sentraal, almal spanne wat ook aan die naweek se toernooi deelneem.  By die Klofie-fees het Menlopark ook met Diamantveld en HTS Middelburg afgereken.

Hoewel Affies-meisies die knie teen Menlopark aan die begin van die seisoen gebuig het, het hulle die bordjies verhang in die Jubilee-liga deur al hul wedstryde te wen en bo aan die punteleer te eindig in Tshwane.  Menlopark het egter weer by die Gauteng-kampioenskappe met ‘n enkele punt teen Affies-meisies in die half-eindstryd gewen en weereens met ‘n enkele punt teen Eldoraigne in die finaal gewen.

Die afgelope naweek se Coke-toernooi in Potchefstroom het bevestig dat dit moeilik gaan wees om die Pretoria-skole te klop. Aangesien die Affies-meisies stof in al die ander spanne se oë geskop het, is dit onmoontlik om te voorspel hoe die naweek se toernooi gaan ontvou.

Die grootste aanslag vanuit die ander provinsies sal waarskynlik deur die Vrystaat se Hoërskool Sentraal wees, terwyl Bloemhof en Stellenberg uit die Wes-Kaap ook kan verras.

Die spanne wat op die dag nie onder die druk van die jaar se belangrikste toernooi gaan swig nie, is die spanne wat waarskynlik sake gaan uitspook in die finaal.  Koelkop doele, akkurate hantering en kannie-dood verdediging gaan bepaal wie as die land se voorste spanne in al die ouderdomsgroepe gekroon gaan word.

Wedstryde begin daagliks om 8:00 by die Hoërskool Dr. E.G. Jansen in Boksburg en eindag Sondag.