Laerskole kry eerste voorsmakie van Fast 5 netbal

Laerskole kry eerste voorsmakie van Fast 5 netbal

posted in: Fast 5, Gauteng | 0

Die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria het die afgelope naweek die voortou geneem in die blootstelling van laerskole aan Fast 5 netbal.

Fast 5 is reeds ‘n geruime tyd ‘n internasionale tendens wat in 2009 die lig gesien het.  Dit behels nuwe reëls, vinniger spel en minder spelers op die baan.  Dit behels ook “powerplays” waar punte dubbel tel en die geleentheid om meer punte aan te teken indien ‘n doel vanuit sekere areas van die sirkel suksesvol is.

Affies Meisies se Direkteur van Netbal, me. Maggie du Plessis het besluit dat dit ‘n goeie idee sou wees om die eerste Fast 5 Toernooi vir laerskole aan te bied, aangesien hoërskole, universiteite en seniors alreeds ‘n geruime tyd die vinniger formaat van die spel geniet.

“Tukkies bied vir die afgelope 3 jaar ‘n Fast 5 toernooi vir hoërskole aan wat my laat dink het om die selfde toernooi vir Laerskole te hou.  Laerskole het nog nie die blootstelling aan die tipe netbal gekry nie.  Die reaksie was oorweldigend en die leerders het dit baie geniet.  Dit was ‘n goeie afskop vir die laerskole se voorbereiding vir 2018,” het sy gesê.

Heelwat hoërskole neem ook jaarliks in die derde kwartaal aan streeksligas deel, waarna die streekswenners deurdring na ‘n nasionale Fast 5 kampioenskap.

Die meisies het Vrydagmiddag met gees en opgewondenheid by Affies Meisies se bane opgedaag en vinnig gewoond geraak aan die nuwe reëls.  In die opwarming was dit duidelik dat die jonger meisies hulle nie sou laat intimideer deur die opsie om van verder af te skiet nie.

Na twee dae se pret het die uitspeelwedstryde aangebreek. Die eerste semi-finaal is tussen Laerskool Constantiapark en Laerskool Randhart beslis. Randhart wen die wedstryd 10-5.  Die ander semi-finaal is tussen Laerskool Menlopark en Laerskool Garsfontein gespeel en Laerskool Menlopark wen 18-6.

Menlopark het in die finaal met Randhart afgereken (15-12) en Constantiapark verower die derde plek deur Garsfontein 14-11 te klop.