Netbalspanne onveranderd vir Wildeklawer 2018

Netbalspanne onveranderd vir Wildeklawer 2018

posted in: Tournaments | 0

Die jaarlikse Wildeklawer-toernooi, wat sedert 2011 ook netbal insluit, sal in 2018 weereens by die Hoërskool Diamantveld in Kimberley plaasvind.  Die deelnenemende skole vir 2018 is onlangs bekend gemaak, en hoewel nie al die rugbyspanne wat in 2017 deelgeneem het weer in 2018 sal aantree nie, (Wildeklwer se 2018 spanne bekend) bly die deelnemende netbalskole onveranderd.

Die Wildeklawer-toernooi is ongetwyfeld die grootste skole rugby- en netbaltoernooi in Suid-Afrika en heel moontlik een van die grootstes in die wêreld, met 136 spanne wat in 2017 deelgeneem het.

Hoërskool Menlopark het reeds vier keer die toernooi gewen (2010, 2011, 2015 en 2017) en Affies Meisies drie keer (2012,2013 en 2014).  Stellenberg het in 2016 met die wentrofee weggestap.

Menlopark sal die 2018 toernooi met selfvertroue aanpak en voel dat hulle ‘n goeie kans staan om hul titel suksesvol te verdedig, aangesien die meerderheid van hul 2017 eerstespan eers volgende jaar in matriek is.  Hulle het juis as die beste span van 2017 uit die stryd getree deur die Nasionale Sekondêre Skole Kampioenskap te wen en ook die boonste posisie op die School of Netball Top 20 ranglys (School of Netball Top 20 – 2017) te beklee.

Al die deelnemende spanne het in 2017 daarin geslaag om die School of Netball Top 20 te haal, so die toernooi sal weereens die netbalseisoen met ‘n netbalskouspel afskop.  Sien gerus hul Top 20 posisies in hakies hieronder.

Die skole wat in 2018 aan die Wildeklawer Netbaltoernooi gaan deelneem is:

  • AHM Pretoria (2)
  • Menlopark (1)
  • Waterkloof (9)
  • HTS Middelburg (14)
  • Rustenburg (15)
  • Ben Vorster (16)
  • Stellenberg (7)
  • Paarl Gimnasium (5)
  • Paarl Girls’ High (13)
  • Sentraal (11)
  • Diamantveld (10)
  • Potch Gimnasium (17)