Manny Ferreira – Menlo se haan onder die henne

Manny Ferreira – Menlo se haan onder die henne

posted in: Gauteng, Personalities | 0

Hoërskool Menlopark se eerste netbalspan het na afloop van ‘n baie suksesvolle seisoen die top posisie op School of Netball se finale Top 20 ranglys vir 2017 beklee.  Hul afrigter, Manny Ferreira het die afgelope 15 jaar ‘n bekende gesig in netbalkringe in Suid-Afrika geword, veral op hoërskoolvlak.

Manny en die Menlo 1ste span na hul die goue medlaje by die 2017 SA Skole Kampioenskappe ingepalm het.

Hy is reeds van 2006 af lid van Hoërskool Menlopark se afrigtingskorps waar hy in daardie jaar die onder 14 span begin afrig het, en die span deurgedring het na die Suid-Afrikaanse kampioenskappe.  Hy het dieselfde span afgerig tot op onder 18 vlak en sedertdien is hy elke jaar die hoofafrigter van die 1ste span.

Manny het langs die netbalbane van Pretoria grootgeword aangesien sy ma, Tokkie du Plessis self ‘n provinsiale speler was en sy ook baie betrokke was by die administrasie van die sport.

Manny het aanvanklik binnenshuise netbal in sy vroeë twintigs begin speel, waar wedstryde meestal tussen gemengde spanne op sosiale vlak gespeel word.  Sy natuurlike aanvoeling vir die spel het egter vining die provinsiale keurders se oog gevang en is hy genooi om die amptelike Noord-Gauteng proewe by te woon.

Hy is in die provinsiale span ingesluit en het by die gemengde Suid Afrikaanse kampioenskappe weereens beïndruk en het hy ‘n plek in die nasionale span losgeslaan wat in Australië aan die Wêreldkampioenskappe deelgeneem het.

In 2002 het Manny besluit om oor te skakel na die mansafdeling en word hy aangewys as kaptein van die Suid Afrikaanse span wat aan die Wêreldbekertoernooi in Johannesburg deelgeneem het.

Manny het internasionale erkenning as speler en afrigter verwerf.

In 2003 vereenwoordig hy weer Suid-Afrika in die gemengde formaat van die spel in ‘n  drie-nasie toernooi teen Australië en Nieu Seeland.  Hier word hy as die beste middelbaanspeler van die toernooi aangewys.  Hy verower ook hierdie toekenning in 2008 tydens die Wêreldbekertoernooi in Australië.

Tussen 2002 en 2008 dra hy die hoed van beide speler en afrigter vir sy provinsiale span, maar floreer onder die ekstra druk en bevestig sy unieke talent en aanvoeling vir die spel deur elke jaar ook vir die nasionale span gekies te word.

In 2013 speel hy weereens die rol van speler en afrigter vir die nasionale span in die Wêreldbeker, waar Suid-Afrika derde na Australië en Kenya eindig.

Manny het sy hoërskool afrigtingsloopbaan by Hoërskool Centurion in 2004 begin waar hy ‘n besonderse manier gehad het om talent in spelers raak te sien wat nie noodwendig op daardie stadium vir A-spanne in ag geneem is nie.  Daarna het hy Hoërskool Die Wilgers se eerstespan afgerig vir ‘n jaar voordat hy in 2006 die skuif Menlopark toe gemaak het.

Hy het sy eerste onder 14 span afgerig tot hulle in Matriek was en loop ook reeds van graad 8 af die pad saam die huidige eerstespan.

“Ons is baie tevrede met die 2017 seisoen.  As mens in ag neem dat die meerderheid van die eerstespan nog onder 17 is, dan het ons selfs meer om na uit te sien in 2018,” sê Ferreira.

Manny skryf sy sukses as afrigter aan verskeie faktore toe: “Ek dink een van my sterkpunte as afrigter is my vermoë om die spel te lees en strategiese aanpassings te maak waar en wanneer dit nodig is.  Ek het al elke posisie op die baan self gespeel, en met heelwat kursusse agter die blad glo ek ek kan goed vereenselwig met elke posisie se unieke tegniek, posisionering en uitdagings,” verduidelik hy.

Hy glo ook in die sielkundige voorbereiding en motivering van die spelers en werk nou saam met sportsielkundige, Henning Gericke, veral ter voorbereiding van groot toernooie.

Manny het die unieke vemoë om nie sy emosies langs die baan te wys nie, en dit is duidelik dat die spelers baie respek vir hom het.

“Mens moet onthou dat jy met hoërskoolkinders werk en dat jy ‘n reuse invloed op hul lewens kan hê. As afrigter moet jy die balans handhaaf tussen die druk om te presteer en die risiko om die kinders te hard te druk en uiteindelik uit te brand.  Ek probeer altyd om so min as moontlik met die spelers te kommunikeer terwyl hulle op die baan is, tensy daar ‘n spesifieke verandering is wat ek wil hê hulle moet maak.  Ek som die wedstryd kwart vir kwart op, en dra my terugvoering sover moontlik tussen kwarte aan hulle oor.  Ek vind dat dit hulle help om te fokus op die wedstryd en dat hulle minder onnodige foute maak as ek rustig is langs die baan,” voeg hy by.

Hy word as een van die beste internasionale spelers en afrigters van die spel geag, met 62 binnenshuise- en 16 volbaantoetse agter die blad. Hy het al van Suid-Afrika se beste spelers onder sy vlerk geneem en ontwikkel en was al op die kortlys om die Protea damesspan af te rig.

Manny is eintlik ‘n projekbestuurder met ondervinding in die petroleumbedryf, maar benewens sy rolle as man, pa en afrigter, bedryf hy en sy ma, Tokkie die Zambezi Action Sports Arena in Pretoria waar hulle ‘n verdere bydrae maak tot die ontwikkeling van netbal in Suid Afrika.