School of Netball Top 20 Ranglys – 2017

School of Netball Top 20 Ranglys – 2017

posted in: Statistics | 0

Die krag van Suid-Afrikaanse skolenetbal lê sonder twyfel steeds in Pretoria. Op School of Netball se ranglys vir die 2017-seisoen kom ses van die voorste tien eerste netbalspanne in die land vanuit die Jakarandastad. Onder die voorste vier spanne in Suid-Afrika tel drie spanne van Pretoria-Oos en een vanuit Centurion.

Hoërskool Menlopark is 2017 se voorste skolespan in Suid-Afrika en beklee dan ook die boonste posisie op School of Netball se eerste ranglys. Menlo het vanjaar slegs vier keer die onderspit gedelf, teen Stellenberg (39-35), Paarl Gimnasium (29-28) en twee keer teen die Afrikaanse Hoër Meisieskool. (33-32, 23-13).

Menlopark het vanjaar as die kampioen van die Tuks-reeks, Gauteng-kampioenskap, Wildeklawer-toernooi asook die SA Skole-kampioenskap uit die stryd getree. Dit was slegs in die Jubilee-liga van Pretoria wat Menlo nie die trofee omhoog kon hou nie. Affies Meisies het in die liga koning gekraai deur al hul wedstryde te wen. Die telling tussen Menlo en Affies Mesies se ligawedstryd was 33-32 in Affies se guns.

Affies Meisies beklee dan ook die tweede posisie op die ranglys en was vanjaar slegs vyf keer aan die verloorkant. Drie van die nederlae was teen Menlopark, terwyl Affies ook een keer teen Waterkloof (15-14) en een keer teen Garsfontein (28-23) verloor het. Affies het ook met 22-elk gelykop teen Stellenberg gespeel.

Die derde posisie op die ranglys word deur die Hoërskool Garsfontein beklee wat vanjaar met ‘n enkele punt (35-34) na ekstra speeltyd teen Menlopark in die eindstryd van die Tuks-reeks verloor het. Hulle het met Affies Meisies in die finaal van die Affie-fees afgereken. Van Garsies se sewe nederlae gedurende die seisoen was ses daarvan teen School of Netball se twee voorste spanne, Menlopark en Affies.

Daar is wel nie veel te kies tussen Garsfontein en Eldoraigne se spanne nie. Eldoraigne het vanjaar in die eindstryd van die Gauteng- sowel as die SA Skole-kampioenskap die knie teen Menlopark gebuig. Eldos en Garsies het slegs twee keer in 2017 ontmoet, met ‘n uitslag van 27-elk in die liga, en 32-30 in Garsies se guns in die semi-finaal van die Tuks-reeks.

Eldoraigne het buiten nederlae teen Menlopark, Garsfontein en Affies ook twee keer teen Waterkloof (26-25, 15-14) en een keer teen die Hoërskool Rustenburg (19-18) die knie gebuig. Die nederlae teen Klofies en Rustenburg was almal egter slegs met ‘n enkele punt.

Die skool wat die hoogste posisie op ons ranglys beklee wat nie vanjaar op die SA Skole-kampioenskap in aksie was nie, is Paarl Gimnasium. Gimmies is in die vyfde posisie ook die enigste span buite Pretoria wat onder ons voorste vyf skole tel. Die span van die Paarl het vanjaar slegs vier keer teen Outeniqua (33-31), Affies (25-20), Waterkloof (19-17) en Garsfontein (34-22) verloor. Gimmies het weens die jaarlikse Paarl Interskole hom aan die SA Skole-kampioenskap onttrek.

Die 2017 hoërskole netbalseisoen het weereens gesorg vir die een na die ander opwindende wedstryd tussen die top eerstespanne in die land, en meer as 450 individuele uitslae is in ag geneem in die samestelling van die ranglys.

  1. Menlopark
  2. Affies Meisies
  3. Garsfontein
  4. Eldoraigne
  5. Paarl Gimnasium
  6. Bloemhof Meisies
  7. Stellenberg
  8. Zwartkop
  9. Waterkloof
  10. Diamantveld
  11. Sentraal
  12. Outeniqua
  13. HMS Paarl
  14. HTS Middelberg
  15. Rustenburg
  16. Ben Vorster
  17. Potch Gimnasium
  18. Oranje Meisies
  19. Duineveld
  20. E.G. Jansen

Ons sien uit na die nuwe seisoen en beoog om ‘n weeklikse ranglys in 2018 te publiseer.