Bloemhof byt net-net vas teen Oranje Meisies

Bloemhof byt net-net vas teen Oranje Meisies

posted in: Western Cape | 0

Die 21ste Interskole tussen Hoër Meisieskool Bloemhof en Oranje Meisieskool het vir groot opwinding in Stellenbosch gesorg die afgelope naweek, met die o.18A spanne wat sake tot in die laaste sekondes uitgespook het.

Hoewel Bloemhof in die voortou was na afloop van die eerste kwart (8-6), was dit van die begin af ‘n taai wedstryd wat die toeskouers kort-kort op hul voete gehad het.

Bloemhof het die tweede kwart sterk begin en vinnig ‘n buffer van 5 punte opgebou, maar hul gemoedsrus was van korte duur toe Oranje Meisies teruggeveg het en steeds binne bereik van Bloemhof se telling was.  Halftyd het aangebreek met die telling op 13-11 in Bloemhof se guns.

Na die derde kwart was daar nog geen duidelike aanduiding wie die wedstryd sou wen nie en die finale kwart breek aan met slegs 3 punte te kies tussen die twee spanne.

Met die telling op 17-14 in Bloemhof se guns het die laaste kwart aangebreek en dit was ‘n heel ander Oranje span wat die baan betree het na die breek. Die meisies van Bloemfontein het daarin geslaag om die agterstand uit te wis en in die laaste minute was die telling 22-22. Dit was eers in die doodsnikke dat die wenspan, Bloemhof daarin geslaag het om met twee vinnige doele die wedstryd te wen.  Die finale telling was 24-22.